Radio Raps

Bekende sê-goed soos "Lekker boys", "Da vat hy", "Okeey" en "Olraait" van Jonathan van die Oos Rand, is algemeen onder Suid-Afrikaners. Radio Raps se oorspronklike materiaal van Jonathan op Youtube steek by die 3 miljoen kyke verby.

Radio Raps

Sy CD getiteld DA VAT HY VOL. 1, wat bestaan uit van sy gewildste grappe en stories sowel as splinternuwes, was Augustus 2014 vrygestel. Die DVD opname van die eerste en uiters suksesvolle vertoning LIFE 101 was in 2015 uitgereik en het reeds goue status bereik. Die tweede vertoning, LIFE 201, is ook op geneem en die DVD uitgereik in 2016. Die derde produksie, LAAT EK JOU Só Sê was opgeneem by Carnival City voor ‘n gehoor van 3,500 mense en word middel 2017 uitgereik.

Radio Raps se produksies word briljant saam gevat deur Jonathan van die Oos Rand, in ‘n eenmanstuk wat handel oor dinge van die lewe wat alledaags is en ons kan irriteer. Ons kies egter om nie aandag daaraan te gee nie. Ons fokus is op die nuus en ander groter gebeure, terwyl ons eintlik soveel genot en begrip uit die lewe kan put as ons fokus op die basiese, alledaagse goed. Soos Jonathan sê: "Basics, boys. Basics!"

Jonathan verduidelik dat die lewe moeilik is om te verstaan, maar, "laat ek jou só sê, dit is nie so complicated nie. Dit hang af aan watter kant van die draad jy staan, my tjom! Mense is snaakse goed, hulle het komplekse verduidelikngs vir allerhande dinge. Wel, laat ek jou só sê, die waarheid is nie noodwendig complicated nie, jou anvaarding daarvan kan wel complicated wees. So, laat ek jou só sê!"

JONATHAN - die groot skerm komedie gebaseer op die karakter van die rekord-brekende YouTube treffer, was ‘n groot sukses in Desember 2016 by alle fliekteater landswyd.

Lekker boys... Life happens, en dit gebeur met my ook! En dis nie altyd koue bier en sonskyn nie, soos jy sal sien in my movie!" sê Jonathan. Jonathan, 'n dromer en wannabe stand-up comedian in sy laat 20's, woon nog by sy ouers. Na nog 'n mislukte "open mic" prestasie, raak hy dronk en bots sy Pa se bakkie op die pad huis toe. Dit is die laaste strooi vir sy liefdevolle, maar keelvolle ouers en nou, vir die eerste keer in sy lewe, moet hy vir himself sorg. Met nêrens anders om te gaan, word hy 'n motorwag. Hy raak hals oor kop verlief, maar voordat hy die hart van die meisie se kan wen, is hy op ‘n rollercoaster rit van selfontdekking.

Behalwe vir Rikus de Beer, sluit die film se rolverdeling in Brumilda van Rensburg, Paul Eilers, Anel Alexander, Jacques Bessenger, Eric Nobbs, Rika Sennett, Albert Pretorius, Frank Opperman, Lizz Meiring en Beate Opperman.




NEEM ASB KENNIS:

Nie geskik vir kinders onder 16 jaar nie, óf kinders kan toegelaat word onder ouertoesig, op eie risiko.

Radio Raps is géénsins onder die belt of vulger nie! Hy raak ook nie onderwerpe oor godsdiens / geloof en politiek aan nie. Hoewel hy kragwoorde gebruik en praat soos "die man op die straat", is die vertoning vir ‘n meer volwasse gehoor, omdat volwassenes kan vereenselwig tot die temas en sketse en is dit nie algemene situasies waarin kinders hulself al bevind het of mee kan vereenselwig nie.

Radio Raps doen GEEN MC werk nie! [‘n MC, die seremoniemeester, tree op as gasheer by 'n geleentheid. Die take van die MC is om kunstenaars of sprekers aan te kondig en voor te stel, items op die agenda aan te kondig en borge te bedank. Die MC skep 'n atmosfeer van belangstelling en verwagting en doen dit deur humor tussen oorgang van die items en gee 'n kort beskrywing van die volgende item op die lys.]